Ons en hulle, ’n graf en ubuntu

Category: Artikels

Ons en hulle, ’n graf en ubuntu

2013-08-11 00:21

 
 

Die Voetspore-span by die graf van pres. Barack Obama se pa naby die dorpie Luanda in Kenia.

 

 

Die pa van die magtigste man ter wêreld lê begrawe in ’n klein Keniaanse dorp naby die ewenaar. Johan ­Badenhorst het gaan kyk.

Die lewensverhaal van die familie van Barack ­Obama, 44ste president van die VSA, laat ’n mens opnuut beïndruk met die potensiaal van mense.

As net ’n paar dingetjies in die lewe van die Obama-familie anders uitgewerk het, was hy vandag dalk eerder ’n veewagter of ’n taxibestuurder in ’n klein dorp op die ewenaar in Kenia, slegs bekend aan sy onmiddellike vriende.

’n Onlangse besoek van ons Voetspore-span aan sy familie aan vaderskant illustreer hoe vinnig dinge binne ’n geslag of twee kan verander. 

Ons was al langs die ewenaar weswaarts onderweg van Kisumu na Jinja toe ons in Kisumu die eerste keer hoor van “Obama Fever”. Die Luo, die mense van die weste van Kenia, sê Obama is hul man. Hy kom van hier. Ons moes eenvoudig gaan kyk waar sy wortels lê.

’n Paar kilometer verder, by die dorpie Luanda, so het die mense van Kisumu vir ons gesê, moet ons wegdraai, links. Sowat 30 minute se ry en ons sal die dorpie vind waar Barack Hussain Obama se ouma woon.

Soos dit dikwels met aanwysings gaan, was dit nie hééltemal so eenvoudig nie. Ons GPS-kaart het nie die pad na Obama se ouma se huis geken nie en ons moes ’n paar keer stop en vra – die laaste keer by ’n tienjarige seuntjie wat ons sonder om te aarsel in die regte rigting gestuur het. 

Die huis was omhein, soos talle ander huise in die omgewing, met ’n lappie mielies, groente en ander gewasse. Ek het voor die hek stilgehou, oopgemaak en in die rigting van die huis gestap na waar ’n groepie mense onder ’n boom sit. ’n Man het nader gekom en beduie ons moet terugstap na die hek vir “’n gesprek”. Wat is die doel van ons besoek? Wat wil ons daarby baat vind? Ons paspoorte is een vir een nagegaan. 

Hoewel hy geen uniform aangehad het nie, kon ek op sy gordel sien hy is van die Keniaanse polisie. ’n Tweede man, ook sonder enige identifikasie, na wie hy verwys het as die ­“officer”, het ook bygekom.

Uiteindelik het die proses langsaam vorentoe beweeg. Ons moes ons name in ’n besoekersboek aanteken waaruit dit duidelik was vreemdelinge doen dikwels hier aan. Talle uit die VSA, maar ook van Japan, Swede en Duitsland.

Daarna is ons begelei na waar ’n ouerige vrou op ’n plastiekstoel onder ’n boom gesit het – Sarah Obama, die 91-jarige grootmoeder van die president van Amerika.
Die plastiekstoele, waarop skynbaar gereeld besoeke van dié aard plaasvind, is vinnig herrangskik. Drie aan die een kant en ses aan die ander – “ons” teen “hulle”. Ses Voet­spore-manne teenoor Sarah Obama, ’n polisie-offisier en ’n tolk. 

Ons is genooi om vrae te stel en te vertel wie en wat ons is. 

Sarah is van die Luo-stam in Kenia. Haar 91 jaar ten spyt is haar gesondheid uitstekend – sy het nie eens ’n bril nodig om te kan lees nie. Verder is sy Moslem en bly haar hele lewe lank al hier. 

Een van haar kinders was ­Barack Hussain Obama. Hy het ná skool en universiteit in die VSA gaan studeer. Daar het hy ’n meisie ontmoet. Hulle is getroud en het ’n kind gehad – ’n seun wat na sy pa genoem is. 

Die huwelik het egter nie uitgewerk nie en die twee is geskei. Die seuntjie is na sy grootouers aan moederskant en sy pa is terug Kenia toe waar hy in 1982 oorlede is in ’n motorongeluk. Sy graf is net sowat tien meter van waar ons met haar sit en gesels, beduie sy. 

Intussen het Barack jr. gefloreer. Hy het regte studeer en die politiek betree. In 2006, toe reeds ’n lid van die senaat, het hy sy ouma in Kenia besoek. Dit was ’n kortstondige besoek. 

Hulle het nie veel vir mekaar te sê nie. Die een kan nie Engels praat nie; die ander een kan nie Luo praat nie. Maar ten minste kon die seun sien waar sy pa se laaste rusplek is.

In 2008 het die seun die president van die VSA geword. Die hele Kenia was opgewonde. Dit was eintlik ’n seun van Afrika wat toevallig in Hawaii gebore is en deur ’n toevallige verloop van omstandighede eerder ’n Amerikaner as ’n Keniaan geword het. Sy charisma en leierskap het hy op ’n ander kontinent laat geld.

Ná Obama se verkiesing as president is Sarah oorval deur weeskinders wat aan haar deur kom klop. Haar kleinseun is die magtigste man ter wêreld. Sy moet daarom geld hê of ten minste toegang tot geld hê. Dis die Afrika-manier. Dis ubuntu.

Maar Sarah kry nie groot finansiële ondersteuning van die VSA nie. Sy is afhanklik van skenkings van private individue om na die kinders om te sien. 

Ook ons is gevra om ’n bydrae te lewer. 

Daar is geen twyfel dat Sarah Obama baie trots is op haar kleinseun nie. En hoekom dan nie? Maar daar is deurentyd die ondertoon dat sy, en die mense in die dorpie op die ewenaar, so ’n bietjie afgeskeep voel. 

Ná die sowat 45 minuut lange gesprek vra ek of ons ’n foto saam met haar kan neem. Die tolk sê dit word eintlik nie toegelaat nie, maar in ons geval sal hulle ’n uitsondering maak, op een voorwaarde – as ons terug is in Suid Afrika moet ons die foto’s gaan wys vir ’n ander merkwaardige man. Een wat ook reeds in sy 90’s is. Een wie se gesondheid die laaste tyd nie baie goed is nie. 

Ons moet die foto gaan wys vir Nelson Mandela en vir hom groete stuur. Mandela en Obama – twee leiers met hul wortels diep begrawe in die Afrika-vasteland. Twee manne wat ’n reuse-invloed op die wêreld gehad het.

Wat ’n merkwaardige ontmoeting op die ewenaar. 

Daar’s hoop in Afrika

Category: Artikels

5a0161a06a2244ff81abb9df27a726cdJohan Badenhorst, aanbieder van Voetspore, ken Afrika se slegte paaie, sy padversperrings en sy korrupte amptenare beter as die meeste mense. Tog dink hy aan Afrika as ’n kontinent van hoop. Hoekom?

Veertien jaar gelede het ek taamlik ernstig in Afrika begin reis. Aanvanklik was dit maar katvoet.

Ek was bang vir die kontinent. Ten noorde van ons is daar mos korrupte regerings. Daar is padversperrings waar omkoopboetes betaal moet word. Daar is korrupte doeane-amptenare. Diep in Donker Afrika is daar waarskynlik nog kannibale. Dis ’n wrede plek, nie beskore vir die toeris nie.

Ons eerste Voetspore-reis was hier in Suider-Afrika rond. Die plekke wat ons ken. Die lande waar “ons” mense ons sal kom haal, sou daar moeilikheid kom. Ons is na Namibië, Bo­tswana, Zimbabwe, Swaziland en Mosambiek. Die reis, “In die voetspore van die grotes”, is opgevolg deur ’n tweede een: “Voetspore op die strand”. Ook maar hier in die suide. 

Maar toe besluit ons om verder noord te gaan kyk. Nog nie heeltemal transkontinentaal nie. Net tot by die ewenaar. Ons is deur Botswana tot in Zambië. Daar waar PW Botha ons gewaarsku het die Russiese gevaar gevorder het tot op ons voorstoep. Daar waar ambassadeur Vassili Solodovnikof namens die Sowjetunie ons met valkoë dopgehou het totdat hy ons eendag aan die suidpunt van Afrika sou stoomroller.

Ons is verder, tot aan die voetheuwel van ons kontinent se hoogste berg, op die grens tussen Tanzanië en Kenia.

Wat ons gesien en beleef het, was verstommend. Ons het gevrees dat ons groepie wit mans met agterdog bejeën sou word. Dat ons uitgeskel sou word vir die gruwels van apartheid. Dat Afrika ons sou wegstoot. Net die teendeel was waar. Die Voetspore-manne is met ope arms ontvang. Daarom het ons besluit om verder te reis.

Ons vierde reis was tot in Kaïro. Die vyfde een op teen die weskus van die kontinent tot in Gaboen. Daarna het ons transkontinentaal begin reis. Van Casablanca tot in die Kaap en van Agulhas tot in Alexandrië. 

Nou staan ons aan die vooraand van ’n reis dwarsoor Afrika. ’n Reis al langs die ewenaar, van Lamu tot in Libreville. Van Kenia tot in Gaboen.

Dit is egter een ding om met vriendelikheid ontvang te word. Dit is iets anders om agteruitgang, korrupsie, wanadministrasie en armoede te beleef. Wat het ons dan die afgelope 14 jaar in Afrika gesien? Wat het die sowat 180?000?km op die vasteland ons geleer van wat fisiek “op die grond” gebeur?

Die verandering in Afrika is dramaties. Die vooruitgang geskied met rukke en stote, maar dis intens. Teerpaaie word kilometer vir kilometer uitgerol. Winkelsentrums word in die groot stede gebou. Selfoonnetwerke is telkens beter as in talle Westerse lande. Innoverende denkers vind daagliks praktiese oplossings vir Afrika-probleme.

In Kenia word daar gepraat van die Silicon Savannah. Dit is omdat die mense van Afrika geleer het om tegnologie te gebruik om by hulle te pas. Die gebruik van m-pesa – mobiele geld – is algemeen. Mense gebruik nie meer geld in beursies om iets te koop nie. Hulle gebruik die lugtyd op hul selfoon. Jy kan van ’n brood tot ’n motor koop met jou mobiele geld. Wat anders as geld is die lugtyd wat jy op jou selfoon laai? Mobiele geld. 

Nou is dit moontlik om vir jou gryse ou moeder wat in North Horr in die verre noorde van die land woon geld aan te stuur met jou selfoon van Nairobi waar jy werk. In die verlede was dit ’n twee weke lange busrit – of jy moes ’n boodskapper met die geld vertrou. Nou is die oorplasing binne ’n paar sekondes.

In Suid-Afrika is hierdie tegnologie ook beskikbaar, maar ons wend dit nie aan nie. Kenia het die behoefte gesien en dit ten volle benut.

Die oorsteek van grense is die doodsteek vir enige safariganger op die kontinent. Dis ure se gewag op onaangename plekke in die teenwoordigheid van mense wat jy nooit jou vriende sal noem nie. 

In die beginjare van ons reise het ons altyd vier uur daarvoor begroot. Vandag is dit heelwat anders. Onlangs het ons in minder as ’n halfuur van die Rwandagrens na Uganda gegaan. By ons aankoms in Moyale in Etiopië is ons paspoorte met ’n strepieskode-leser gelees en moes ons in ’n kamera kyk wat ons binnekoms bevestig het. 

Alles binne ’n klompie minute. Dinge verander werklik vinnig.

Is die Afrika-leiers vandag minder korrup as voorheen? Waarskynlik. Die Zambiese president, Michael Sata, se verkiesingsbelofte in 2011 was om die land van korrupsie skoon te maak. Soortgelyke optrede sien ons in Ghana en Malawi. Dit is duidelik nie die geval in Angola en Zimbabwe nie. Talle ander voorbeelde kan sekerlik genoem word.

Maar korrupsie is dalk nie ’n Afrika-probleem nie. Dis nou ondanks die feit dat dit in die postkoloniale era erg op die kontinent gewoed het. Korrupsie is dalk eerder ’n probleem van politici. Helmut Kohl is daarvan aangekla en skuldig bevind. So ook Silvio Berlusconi. Meer onlangs Nicolas Sarkozy. Hulle was die regeringsleiers van Duitsland, Italië en Frankryk. En dan sê ons korrupsie is ’n Afrika-probleem...

In Afrika is daar steeds baie konflikgebiede. In Mali en Algerië is Al Qaeda slaags met plaaslike mense. In die ooste van die DRK maak die M23-rebelle moeilikheid. The Lord’s Resistance Army in die noorde van Uganda voer reeds jare lank ’n skrikbewind. Tussen Suid-Soedan en Soedan is daar oorlog. Die vrede wil net nie kom vir Darfoer nie. 

Selfs in Mosambiek was daar onlangs ’n opflikkering van die dekades lange stryd tussen Frelimo en Renamo. Somalië sukkel meer as 20 jaar al om orde te kry in die suide van die land, maar Al-Shabaab loods telkens terreur-aanvalle.

Dit is so dat Afrika-reisigers en ook diegene wat in Afrika sake wil doen hul huiswerk deeglik moet doen. Dis nie een land nie. Dis ’n kontinent met meer as 50 state, en elkeen van die state het sy eie, unieke karaktertrekke. Bly weg waar die gevaar is. Waar dit nie lekker is nie. Daar is genoeg ander plekke wat onvergeetlik is.

Maar daar is tog sekere gemeenskaplikhede op die vasteland. Afrika se mense is waarskynlik sy grootste bate. Die vriendelikheid wat ons die afgelope 14 jaar ervaar het, het ons verstom. Op die kontinent word jy letterlik en figuurlik met ope arms ontvang. 

Voeg daarby die kontinent se ongelooflike rykdom aan grondstowwe, bewerkbare landbougrond, wonderlike klimaat, skoonheid van landskappe, natuurlewe en natuurlike hulpbronne. 

Dis wanneer jy besef – Afrika is die kontinent van hoop. 

Verleentheid by doeane


Op ons derde Voetspore-reis is ons dieper die vasteland in. Ons het die grens in die noorde van Mosambiek na Tanzanië oorgesteek met ’n veerboot wat net kon werk as die gety opkomend was. Die water van die Ruvuma­rivier, so na aan sy mond, is maar vlak. Dit was reeds donker toe ons op Tanzaniese grondgebied aankom, en moes die nag op die doeanekantoor se voorstoep deurbring.

Die volgende oggend het ons die formaliteite begin afhandel. Ek is eers na die doeanekantoor om ons voertuie wettig die land in te kry en allerlei padbelastings en derdepartyversekering te betaal. Daarna is ek na paspoortbeheer. Terwyl ek daar wag, roep die doeane-amptenaar my terug na sy kantoor. Ek het nie verklaar ek het ook ’n sleepwa nie. Ek pleit onkunde. Hy sê die koste vir die sleepwa is ’n verdere $20.

Ek haal die $20 uit en sit dit op die lessenaar neer. Ek vermoed dadelik onraad. Hierdie geld gaan nie na die staatskas nie. 

Die amptenaar begin gesels. Hy is geïnteresseerd in ons reis. Waarvandaan kom ons? Waarheen is ons op pad? Later sê hy die belasting vir die sleepwa is nie so noodsaaklik nie. Hy kan sy “diskresie” daaroor gebruik.

Ek staan op en groet. Ek stap na die deur. Net voordat ek uitstap, roep hy my terug: “Excuse me sir. You forgot your $20.”

Ek was die een in die verleentheid. My vooropgestelde idees oor die kontinent en sy korrupte amptenare het sommer vroeg-vroeg verander.

Johan Badenhorst en sy Voetspore-span vertrek eersdaags op hul agtste Afrika-ekspedisie. Die reis, “Voetspore op die ewenaar”, sal hulle van Kenia na Gaboen neem.

We cook with Johan Badenhorst

Category: Artikels

IMG 1353

Johan Badenhorst of Voetspore fame is well known for many reasons. He’s an explorer, adventurer, writer, film maker, TV personality, musical producer and an authority on overlanding. Cooking could easily be added to the list. When we visited him in Pretoria, Johan decided to share a taste of Senegal with us.

Text: Leilani Basson

Photography: Jannie Herbst

VAL: In Johan Badenhorst se gesin-SPORE op Pasella

Category: Artikels

Wes-Afrika | Van Gansbaai na Gaboen

Category: Artikels

DO27 WR9 Voetspore West Africa 3

Op pad tussen Gansbaai en Gaboen het die span van die TV-reisprogram Voetspore te doen gekry met gewapende Ninjas, Kuifie, gebreekte bladvere én voertuie wat amper deur die see weggespoel is. Die spanleier, Johan Badenhorst, vertel wat hy wys geword het.