"VOETSPORE, VAN DIE KAAP TOT KILIMANJARO", WOENSDAGAANDE OM 21:OO, NET OP KYKNET


Voetspore het begin met 'n droom - 'n droom om te gaan loop in die voetspore van die Grotes. Om die migrasieroetes van olifante te volg soos hulle van oos na wes oor suidelike Afrika migreer het.

In 2000 het kykNet vir Johan Badenhorst gevra om diť epiese tog aan te pak. Saam met sy span van 5 het hulle gereis van Kaap Kruis aan die Atlantiese Oseaan tot by Mabibi aan die Indiese Oseaan. Langs die pad is bekende plekke aangedoen en nuwes ontdek. Die mense van die streek is besoek, en saans is daar onder die sterre geslaap terwyl die leeus brul en die jakkalse huil.

Maar Voetspore was meer as 'n aantal bestemmings. Dit het 'n universele reis geword. Dit het 'n leefwyse geword. Waarom jou 4x4 en miskien ook 'n sleepwa pak en gaan soek na ontberings terwyl jy daar in Durbanville of Waterkloof elke aand gemaklik kan wees? Waarom in koue water stort as jou geyser by die huis werk? Waarom 'n warm bier of whiskey drink as jy 'n ysmasjien het by die huis? Waarom middagete uit 'n oopgesnyde visblik eet as jou vrou vir jou kon bedien op haar Noritake stel nadat sy gesondheidskos gaar gemaak het in haar AMC Classic potte. Wel, as jy dit een keer gedoen het, dan weet jy, jy sal terugkom vir meer. Daarom is die tog 'n jaar later opgevolg met Voetspore op die Strand.

Voetspore op die Strand was 'n reis van vuurtoring tot vuurtoring om die kus van Suidelike Afrika. Dit het begin by Ponta do Ouro in Mosambiek, terug al die pad na Kaap Kruis. So is die sirkel voltooi.

Die Voetsporemanne het gaan rus vir 'n paar jaar. Vrou en kinders vir 'n tydjie gaan gelukkig hou. Maar nou is dit weer die tyd om die pad te vat - noord. Een of ander tyd moet mens tog gaan kyk hoe lyk dit in Kairo, en die eerste been van so 'n tog is van die Kaap tot Kilimanjaro.

Die reis begin op 9 Januarie, 2006, en behoort klaar te wees aan die einde van Maart - net betyds vir die eerste uitsending in April. SÍ nou maar net jy kon saam gaan....

Roete

Vennote