You are in:

Voetspore en Amarok

6

Die laaste reis het ons van Casablanca tot die Kaap afgelê in Toyota Land Cruisers. Dit is dan ook die eerste maatskappy vir wie ons genader het om voertuie te verskaf vir vanjaar se reis. Toyota het ? bewese rekord in Afrika, en ons was baie gelukkig, veral met die 70 Series

Die afgelope jaar is daar met Toyota onderhandel. Daar is aanvanklik besluit ons moet die volgende reis aanpak met Hilux. Later, in Desember 2010, is daar besluit om dit eerder die Hilux Arctic Truck 35 te maak. Ons het  twee van die voertuie selfs by die KKNK gaan vertoon as die nuwe Voetspore Voertuie. Dit blyk in die stadium dat die Arctic Truck projek nie van die grond af kom nie. Daar is onderhandelinge tussen Arctic Trucks van Ysland, Toyota SA en Imperial. Lyk nie of hulle tot ? besluit kan kom nie. Wat beslis waar is, is dat hulle nie vir ons voertuie kan verskaf binne die afsienbare toekoms nie. Dis jammer, want ons nogal daarna uitgesien om die voertuie wat in die Noord- en Suidpool so goed vaar op ? Afrika Safari te neem. Miskien is dit ook maar goed so. Dalk is die voertuie nie geskik vir dit wat ons op ons sewende Voetspore ekspedisie wil doen nie.

Maar dit het nie beteken dat ons as gevolg daarvan sommer net van Toyota wil wegloop nie. Daar is nog die Hilux opsie, en dan vier Cruiser vanjaar sy 60e bestaansjaar. Kink na ? goeie rede om dit dalk op ? transkontinentale reis te vier. Maar Toyota kon nie met drie voertuie vorendag kom nie. Daar is nie begroot vir voertuie om op bruikleen aan Voetspore vir ? paar maande te gee nie. Ons moes ander plan maak.

Ons het nog altyd die Nissan opsie gehad. Nissan is gretig om vir ons die Navara op steroïde te gee vir die trip. Ook die werkesel Patrol. Ons het oor die jare ook ? uitstekende verhouding met Nissan gehad, en glo steeds die Patrol is een van die mees onderskatte voertuie. Maar toe tree ons in gesprek met Volkswagen Suid Afrika, en ? hele nuwe opsie gaan vir ons oop.

Ek het die eerste keer met die Amarok kennis gemaak by die 2010 Nampo Oesdag. Soos met almal was my eerste reaksie – die enjin is te klein en te gesofistikeerd vir die groot bakkie. Maar ons moet ook in aanmerking neem dat dit Volkswagen is wat die voertuig bou, en dat die Amarok die ondersteuningsvoertuig is vir Geniel de Villiers in die Dakar. Verder is Sarel van der Merwe tans besig met sy tweede Spirit of Africa – en dit met die Amarok.

Dit nog te vroeg om te veel te sê oor die voertuig. Ek weet net dat ons geweldig uitsien na die bakkie wat ry soos ? kar. Dat dit wat ek dusver van die voertuig kon uitvind, net indrukwekkend was. Meer nog, dat die mense by Volkswagen Suid Afrika vir my voel soos eende van ons dam. Daar is so ? bietjie van ? avontuurlus. Daar is so ? bietjie onsekerheid. Maar daar is ? geweldige uitdaging wat voorlê.

Wanneer ons op 1 September vertrek op die Alexandria/Agulhas ekspedisie, dan doen ons dit met twee dubbelkajuit en een enkelkajuit Volkswagen Amaroks. Ons sal julle op hoogte hou van verwikkelinge.

Mooi loop

Johan

Facebook Fans