Voetspore van Gansbaai tot Gaboen
SABC logo
Gaan loer gerus na ons foto galery vir die nuutste foto's van die Voetsporespan se reis van Gansbaai tot Gaboen!

Stuur ook gerus vir die span 'n boodskap - kliek hier.


Die Voetspore span

Johan Badenhorst
Spanleier
Johan is sedert 1986 betrokke in die televisiewêreld. Hy het begin by die destydse Goeie Môre Suid Afrika en was daarna op die nuusredaksie van TV1. In 1990 het hy by Jan Scholtz begin werk, en was regisseur van TV reekse soos Pieter Pieterse se Boude en Blaaie en Kaap tot Kunene. Sedert 1994 het hy sy eie produksiehuis, en lewer hy bydraes vir 50/50 en ander joernaal programme, en vervaardig hy 'n wye verskeidenheid dokumentere programme. Verder is hy verantwoordelik vir die reekse Agriforum, Wenakker en Kom laat ons sing. Johan het die eerste Voetsporereeks in 2000 vervaardig
Rey Janse van Rensburg
Fotograaf en 4x4 spesialis
Rey woon op Springbok in Namakwaland van waar hy sy besigheid, Die Richtersveld Challenge, bedryf. Rey besoek die Richtersveld lank reeds voor dit gewild begin raak het, en neem gereeld toergroepe asook wetenskaplikes na die klipwoestyn. Hy is ook 'n gids op die Oranjerivier, en neem toergroepe na Kaokoland in Namibië. Op Springbok is Rey ook die plaaslike fotograaf (met 'n besigheid, Van's Photos, wat hy by sy pa oorgeneem het), het hy 'n drukkery en 'n gastehuis. Hy is ook 'n kranige valskermspringer en abseiler.
Gideon du Preez Swart
Klankman en tweede kameraman
Gideon is 'n klankman van beroep. Dis waarvoor hy studeer het. Sy blootstelling in die film en televisiebedryf het hom ook blootgestel aan kamerawerk, en hy het reeds heelwat in die verband gedoen. Gideon is ook 'n kranige fotograaf. Hy het egter 'n paar jaar gelede die stadslewe gegroet, en boer tans in die Alldays omgewing. Die boerdery bestaan uit wild, skaap, gewasse en groente.
Lourens Human
Kameraman
Lourens is vir meer as 20 jaar reeds een van die beste joernaal en dokumentêre kameramanne in die land. Hy was van die eerste kameramanne wat vryskut begin werk het. Van die eerste reekse wat hy geskiet het was Gé Sing, 'n reeks saam met Gé Korsten wat dwars oor Europa opgeneem is. Sedertdien is Lourens veral gewild by vervaardigers van joernaalprogramme soos Top Billing, Pasella en Kwêla. Hy is ook veral bekwaam in die verfilming van natuurtonele, en is een van die mees berese mense in die televisie bedryf.
Deo Magoye
Veldgids
Deo werk reeds meer as 20 jaar as gids in Sentraal Afrika. Hy is gebasseer in Arusha, en werk hoofsaaklik in die Serengeti, maar is ook bekend met die Masai Mara en die gebiede om die Victoriameer. Deo werk onafhanklik. Hy het twee 4x4 voertuie waarmee hy gaste in die gebiede rondneem. Sy grootste aantrekking is sy fenomenale veldkennis, asook sy vermoë om met mense te werk.
Streicher Badenhorst
Streicher is nog op skool. Hy het in 2008 laerskool klaargemaak by St. Paulus Primêre Skool in Pretoria. Op vorige Voetsporereise het hy die volle reis meegemaak, maar skoolverpligtinge het in 2008 daartoe gelei dat hy net die tweede helfte van die ekspedisie saam kon gaan. Streicher is die algemene assistent op so 'n reis. Soms is hy kameraman, soms kok, en soms help hy net vuur maak en tent opslaan.
Koos Moorcroft
Koos was voorheen RSM van die SA Leer. Dis nadat hy oral in Suidelike Afrika gewerk het as lid van die Verkenningskommando. Na sy aftrede het hy begin met African Bushcraft and Survival Adventures. Hy konsentreer as reisgids hoofsaaklik op Angola. In die land was hy dusver die pionier om safarigangers van hoofsaaklik Suid Afrika te begelei. Koos het dwarsdeur die voorheen oorlog geteisterde land kontakte opgebou, en bied sekerlik die beste geleentheid om die land op veilige en betroubare wyse te leer ken. Koos het die span vergesel vir die eerste drie weke van hulle reis deur Angola.
Jose Livingue
Jose is een van Koos se tolke. Sy pa is afkomstig van Angola en was lid van die beroemde 32 bataljon. Jose is uitstekend aangelê in tale, en afgesien van Afrikaans, Engels en Portugees, ken hy ook meeste van die plaaslike dialekte in Angola.
TUIS  |  ADMIN