Voetspore, Casablanca tot die Kaap
Die Voetsporemanne is weer op pad. Ons het nog altyd weg gery van die huis af. Die keer draai ons dit om. Die keer wil ons huis toe ry.

Die plan is om op die 1e Mei, 2009 te vertrek in Casablanca, Marokko. Na ʼn week of wat deur die noord Afrika land, draai ons die voertuie se neuse suid. Eers deur die Wes Sahara. Dis Afrika se laaste kolonie. Betwiste gebied. ʼn Plek waar daar nog oorlog gemaak word. ʼn Plek waardeur die Dakar tydren sou loop, maar weens die moord op vier Franse toeriste is die tydren verlede jaar op die nippertjie afgestel. Ons sal bietjie meer versigtig wees.

Na die Wes Sahara gaan ons Mauritanië binne. Ons maak ʼn draai by ʼn paar oases, en reis dan terug see toe, na Dakar in Senegal. Hier draai ons oos, vir ʼn paar duisend kilometer. Eers is dit deur Mali, met ʼn besoek aan Mopti, Bandiagara en Timboektoe. Daarna met die Nigerrivier tot by Goa. Ons hoop om dan Niger binne te gaan, en indien ons ʼn militêre konvooi kan kry om ons na Agadez te neem, wil ons so ʼn bietjie noord, die Sahara binne. Maar dan begin ons suid draai.

In Nigerië besoek ons die Moslem noorde. Die stede Kano en Maiduguri. Dan is dit na Kameroen. Van Maroua reis ons suid tot by die Ring Road.

As daar ʼn kans is besoek ons Ekwatoriaal Genieë voor ons Gaboen binnegaan. In dié land was ons reeds voorheen, en die keer is dit ʼn besoek aan die binneland. Ons wil gaan kyk hoe lyk dit by Lope en Franceville.

Ons wil weer terug na die Kongo, maar die keer sal ons nie weer Brazzaville besoek nie. Eerder deurgaan na die Cabina enklawe, wat deel uitmaak van Angola. Ons moet weer deur ʼn stukke van die DRK, en sal by Matadi met die brug oor die magtige rivier, tot ons weer Angola binnegaan. Die keer sal ons reis na plekke waar ons nog nie voorheen in die voormalige Portugese kolonie besoek het nie.

Na ʼn week of wat in Angola kom ons deur na Namibië, met ʼn besoek aan Damaraland, Swakopmund, Sossusvlei en Ai Aix. Suid Afrika wil ons inkom met ʼn pont oor die Gariep by Sendelingsdrift.

Ons hoop om die reis klaar te maak in minder as 100 dae. Dis sowat 20 000 kilometer van Afrika se beste.

Hoe lyk dit – ken jy iemand in enige een van die lande hier bo? Dalk Suid Afrikaanse kontrakwerkers of mense wat ʼn lodge bestuur. Laat weet vir ons. Ons gaan maak graag by hulle 'n draai.

voetspore@kewtv.co.za
(012) 996 1743
Terug na Gansbaai tot Gaboen webbladTerug na Gansbaai tot Gaboen webblad